Mosie van wantroue draai in hooggeregshof
2012-11-19 17:53
Kaapstad – Kaapstad se hooggeregshof sal Dinsdag ‘n dringende hofaansoek deur opposisiepartye aanhoor om die speaker van die Nasionale Vergadering, Max Sisulu, te dwing om ‘n debat te skeduleer oor die mosie van wantroue teen pres. Jacob Zuma.
Die aansoek vir die dringende interdik is Vrydag deur die DA se parlementêre leier, Lindiwe Mazibuko, namens 'n groep opposisiepartye ingedien.
Die aansoek is die jongste poging deur opposisiepartye om ‘n mosie van wantroue teen pres. Zuma in die parlement te bespreek.
Mazibuko het op 8 November by die Nasionale Vergadering ‘n mosie van wantroue teen Zuma ingedien.
Redes wat vir dié besluit aangevoer is, sluit ondermeer in die Marikana-slagting, die skandaal oor die president se private woning in Nkandla, sowel as die handboek-sage in Limpopo en die Oos-Kaap.
Die mosie is deur agt opposisiepartye ondersteun.
Die ANC het verlede week die opposisie se poging om oor die mosie 'n debat te voer, gefnuik. Die ANC se hoofsweep, Mathole Motshekga, het gesê die mosie is "ligsinnig".
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA