Moordklagte kom dalk ná gru-ongeluk
2012-01-31 10:00
Kaapstad – Die Wes-Kaap se LUR vir vervoer, Robin Carlisle, het versoek dat aanklagte van moord teen die eienaar van ‘n stootskraper, wat Maandagoggend in ‘n ongeluk naby Gouda betrokke was, gebring moet word.
Agt mense is in die ongeluk dood.
Die Caterpillar 631D-stootskraper, wat gereeld gebruik word vir die bou van paaie, was ten tyde van die ongeluk op die Klein Bergrivier-brug. Altesaam 22 mense is in die ongeluk beseer.
“Dit blyk of twee vragmotors in die rigting van die brug gery het,” het Carlisle gesê.
Die eerste, wat die reuse-voertuig op die brug gesien het, kon daarin slaag om betyds stil te hou, maar die tweede vragmotor het minder tyd gehad om remme aan te slaan.
Die tweede vragmotor het uitgeswaai, maar het gevolglik teen die stilstaande vragmotor gebots voor dit die stootskraper getref het. Die agterkant van die vragmotor is afgeruk en het in die rivier onder die brug beland.
Eienaar het gevlug
Volgens Carlisle het beide voertuie aan die vereistes van die wet voldoen. Die stootskraper was glo onwettig.
“Ek is verder ingelig dat die eienaar van hierdie stootskraper gevolglik van die toneel gevlug het en die bestuurder agtergelaat het om met die polisie te praat,” het hy gesê.
“Die stootskraper is ongelisensieerd, ongeregistreer en ten spyte van hierdie vereistes moes die voertuig nie sonder ‘n permit vir oorgrote voertuie en ‘n begeleidende voertuig op die pad wees nie.”
Carlisle het gesê hy sal verwikkelinge rakende die saak noukeurig opvolg, aangesien dit voorkom of dit ‘n geval van opsetlike nalatigheid is aan die voertuig-eienaar en “moontlik die bestuurder” se kant.
“Die Nasionale Vervolgingsgesag sal binne hul regte optree om moordklagte in hierdie saak te ondersoek onder dolus eventualis (opset by moontlikheidsbewussyn),” het hy gesê.
“Dit sal ook leersaam wees om vas te stel wat die rol van spoed en die volgafstand, twee groot oorsake van ongelukke op ons paaie, in hierdie geval was.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA