Moordenaar sing ’n ander deuntjie
2009-10-28 10:17
Kaapstad - Nadat hy eers skuld op die moord op Leigh Matthews beken het en toe aangevoer het hy is onskuldig, sê Donovan Moodley nou weer hy het haar wel vermoor.
Tog is die moord nie beplan of met voorbedagte rade gepleeg soos hy aanvanklik tydens sy verhoor gesê het nie, voer hy in hofstukke in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Johannesburg aan.
Hy het Matthews “op die ingewing van die oomblik vermoor” nadat hy haar ontvoer het en hul “walglike verhouding beëindig is”, lui die hofstukke waarmee hy teen sy lewenslange vonnis appelleer.
Regter Joop Labuschagne het Moodley in Augustus 2005 aan die moord in 2004 op Matthews, ’n medestudent, skuldig bevind.
Moodley het aanvanklik skuld beken en is lewenslank tronk toe gestuur. Drie maande later het hy ’n opskudding veroorsaak deur ’n aansoek by Labuschagne in te dien waarin hy om ’n herverhoor aansoek doen. In dié aansoek het hy skuld ontken.
Hy het die aansoek egter later teruggetrek, volgens sy jongste hofstukke “omdat ek soos ’n aap in ’n hok” in die hof gevoel het weens al die mediabelangstelling.
Moodley beken nou weer skuld, maar wil na óf ’n volbank van drie regters van die hooggeregshof óf die appèlhof teen sy vonnis appelleer.
Hy sê sy lewenslange vonnis “is skokkend onvanpas” en dat Labuschagne enersyds die openbare belangstelling in sy verhoor “totaal oorskat het” en andersyds sy versagtende omstandighede, soos dat hy ’n eerste oortreder was, “totaal onderskat” het.
Omdat Moodley reeds vier jaar te laat is met sy appèlaansoek, moet hy aansoek doen om kondonering vir die laat indiening van sy aansoek. In dié aansoek sê hy hy is ná sy vonnisoplegging vier jaar gelede “in die tronk oorval deur prokureurs” wat sy appèl wou behartig, “maar ek het gou agtergekom dat hulle nie my belange op die hart gedra het nie, maar wel die publisiteit wat hulle sou kry”.
Dir. Piet Byleveld het gister by navraag bevestig sy ondersoek na moontlike medepligtiges aan die moord is ver gevorderd “en moontlike inhegtenisnemings kan plaasvind”.
Adv. Zaais van Zyl, die staatsaanklaer, wou geen kommentaar lewer nie, behalwe om te bevestig dat Moodley se aansoek beveg sal word. Geen datum vir die aanhoor van die aansoek is nog bepaal nie.
Labuschagne het intussen afgetree. As hy nie bereid is om tydelik vir die Moodley-aansoek aangestel te word nie, sal ’n ander regter die aansoek moet aanhoor.
- Die Burger