Moordenaar kry ligter vonnis oor k-woord
2012-09-12 10:41
Johannesburg – ‘n Tuinwerker wat sy bejaarde werkgewer in 2009 in Bultfontein naby Pretoria vermoor het, is ‘n ligter vonnis opgelê omdat die slagoffer hom ‘n k****r genoem en geweier het om hom te betaal, het ‘n koerant berig.
Beeld berig regter Cynthia Pretorius het Jacob Pantsi Mmekwa tot 15 jaar tronkstraf gevonnis.
Mmekwa (32) het self erken hy het Sarel Koekemoer twee keer in die nek gesteek nadat sy werkgewer hom gedreig het, het die dagblad berig.
“Ek sal jou doodmaak, k****r,” het Koekemoer (69) aan die tuinier gesê.
Mmekwa het beweer Koekemoer het hom nie einde Augustus 2009 sy salaris van R450 betaal nie.
Koekemoer het na bewering sy tuinwerker daarvan beskuldig dat hy gereedskap gesteel het toe Mmekwa hom konfronteer.
Pretorius het gesê daar is “wesenlike en dwingende omstandighede” wat meebring dat die moordenaar nie lewenslange tronkstraf kry nie.
Dit sluit in dat hy nie sy salaris betaal is nie, van diefstal beskuldig is en die k-woord toegesnou is. Sy het gesê dié woord is ’n growwe belediging en moet uitgewis word. Mmekwa was ook lank as verhoorafwagtende in aanhouding.
Mmekwa se medebeskuldigde, Levy Mthombeni, is op aanklag van diefstal tot vyf jaar tronkstraf gevonnis.
Albei mans is daaraan skuldig bevind dat hulle die slagoffer se selfoon, vuurwapen en geld gesteel het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA