'Moordbende' soek regshulp van polisie
2013-02-05 13:18
Durban – Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) sal die polisie vra om ‘n besluit te maak rakende die betaling van regskostes van 28 beamptes wat tereg staan op ‘n rits aanklagte wat wissel van moord tot afpersing.
Altesaam 28 voormalige lede van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad in Cato Manor het Dinsdag vlugtig in die hof in Durban verskyn.
‘n Verhoordatum sou na verwagting vasgestel word, maar die aanklaer, Sello Maema, het vir uitstel gevra vir die “finalisering van die kwessie van regsverteenwoordiging”.
Die groep van 28, wat daarvan aangekla word dat hulle deel was van 'n "moordbende" wat vanuit die Cato Manor-polisiestasie in Durban bedryf is, staan tereg op meer as 70 aanklagte, insluitend afpersing, moord en poging tot moord.
Die eenheid het na bewering opgetree onder gesag van Johan Booysen, hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, en het glo finansieel voordeel getrek uit ondernemings en individue wat in konflik betrokke was met die mense wat glo deur die eenheid vermoor is.
Die saak is tot 9 Mei uitgestel.
Natasha Ramkisson, woordvoerder vir die NVG, het ná hulle verskyning gesê die mans het by die SAPD aansoek gedoen om regshulp.
“Dit is nie dat die NVG hierdie mans gaan help om hulp te kry nie. Hulle het aansoek gedoen by die bestuur (van die SAPD) en die NVG sal vra dat ‘n besluit gemaak word sodat die saak kan voortgaan,” het sy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA