Moord op weeskinders: Verdagtes glo straatkinders
2012-11-16 11:24
Johannesburg – Vyf van die ses tieners wat in verband met die moord op drie kinders in Limpopo in hegtenis geneem is, is na bewering haweloos, het die polisie gesê.
“Een van die tieners wat vasgetrek is, is ‘n skolier en die ander vyf is na bewering straatkinders, maar die polisie moet nog vasstel of dit waar is...” het brig. Hangwane Mulaudzi gesê.
Die groep is in hegtenis geneem nadat ondersoeke in Augustus ná die moorde begin het.
Mulaudzi sê die verdagtes is tussen die ouderdomme van 12 en 14. Hulle word van moord en verkragting beskuldig.
Die broers, Bafana Kekana (9) en Hosea Richard Kekana (10), en hul niggie Johana Kekana (12) is op 18 Augustus in Mookgopong gestenig. Bloedbevlekte klippe, wat met 'n kombers en takke bedek is, is naby die lyke gevind.
Die vermoorde kinders was geklee in hul skooluniforms en hul hande en voete is met skoenveters vasgemaak.
Johana is verkrag voor sy vermoor is.
Die oorledenes is laas op 15 Augustus lewend gesien tydens 'n optog om meer onderwysers by hul skool, Dikobo-laerskool, te eis. Hulle het by die Montadi-jeugsorgsentrum gewoon.
Mulaudzi het gesê die ses aangekeerdes woon in die gebied waar die lyke gevind is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA