Moord op vrou in restaurant skok kusdorp
2010-04-23 06:24
Jackie Kruger, Die Burger
George - Die gemeenskap van die kusdorp Plettenbergbaai is erg geruk deur die raaiselagtige moord op ’n vrou in ’n gewilde restaurant hier.
“Ons wil met die polisie en sakeleiers praat,” het Memory Booysen, ’n onafhanklike raadslid, Donderdag gesê nadat nuus van die moord op Beverly Sapphire (46) bekend geword het.
Sy was die gasvrou by die Lookout Restaurant & Deck wat in 1993 deur Chris Stroebel en sy vrou, Pippa, begin is.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, ’n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is Sapphire Woensdag omstreeks 22:30 trompop doodgeskiet. Sy was op die punt om die restaurant te sluit toe twee mans aanvanklik die perseel betree en haar met ’n vuurwapen gedreig het.
Nog twee mans het die restaurant kort daarna binnegekom. Hulle het die sleutels van die kluis en kontant geëis. ’n Skoot is afgevuur voordat Sapphire die sleutels kon oorhandig.
“Die vrou was sowat drie treë van die restaurant se deur af toe sy trompop deur een van die mans geskiet is. Die koeël het haar voor in die bors getref,” het Pojie gesê.
Volgens hom was die enigste getuie ’n sekerheidswag wat sy beheerkamer oor die skietery gebel het. Hy is ongedeerd. Die polisie was minute later op die toneel, maar die gewapende rowers was skoonveld sonder dat hulle enigiets gevat het.
Volgens Pojie was al die geld steeds in die kasregister. “Ons probeer nog vasstel of iets anders vermis word.”
Die restaurant was gister vir sake gesluit. Stroebel het gesê hy is pas uit die hospitaal in George ontslaan en was nie in die restaurant toe die voorval gebeur het nie.
“Ek is geskok en probeer nog self die stukke bymekaarsit. Ek sal later onderhoude toestaan.”
Forensiese deskundiges het gister die misdaadtoneel vir leidrade gefynkam. Pojie het gesê die speurders wat deel uitmaak van die direktoraat vir prioriteitmisdaadondersoeke, oftewel die Valke, ondersoek ’n saak van moord en gewapende roof.
Mense met inligting oor die voorval kan speur.adj.off. Calvin Ross bel by 044 802 1600 of 0 082 850 9639.