'Moord-ma' se saak uitgestel
2012-01-09 13:00
Kaapstad – ‘n Skare het Maandagoggend buite die Mitchells Plain-landdroshof bymekaar gekom terwyl ‘n ma vir die moord op haar seun verskyn het.
“Ons soek Zulpha, ons soek Zulpha,” het die mense geskree nadat die saak teen Zulpha Jacobs (30) tot 16 Februarie uitgestel is vir verdere ondersoek.
Jacobs het vroeër erken dat sy haar seun, Tariq (2), vermoor het.
Landdros Tom Cloete het gesê Jacobs sal in aanhouding bly totdat sy weer in die hof verskyn. Sy word by die Pollsmoor-tronk se mediese afdeling aangehou.
Klein Tariq is Jacobs se derde kind wat in sowat ‘n dekade gesterf het. Hulle was almal onder die ouderdom van twee.
Tariq se lyk is op 31 Desember tussen bosse agter die Imperial-laerskool in Beacon Valley gevind.
Jacobs het Tariq as vermis aangemeld. Sy is later in hegtenis geneem nadat sy erken het dat sy hom vermoor het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA