Moodley se toekoms in die weegskaal
2012-02-01 08:05
Johannesburg – Die veroordeelde moordenaar Donovan Moodley sal Woensdag hoor of die hooggeregshof in Johannesburg sy aansoek om 'n herverhoor sal toestaan.
Regter Joop Labuschagne het verlede week gesê hy sal die saak oorweeg en die gepaardgaande dokumente deurlees.
Hy is in 2005 skuldig bevind aan die student Leigh Matthews se moord en menseroof en die afpersing van haar pa, Rob.
Moodley is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord, 15 jaar vir die ontvoering en 10 jaar vir afpersing.
Hy het verlede Woensdag sy aansoek om 'n herverhoor begin en gekies om homself te verdedig.
Die waarheid is volgens Moodley dat drie dwelmsmouse hom gedreig het om by die ontvoering betrokke te raak en dat hy moes toekyk hoe een van hulle, slegs bekend as Jemba, haar doodgeskiet het, het Beeld vroeër berig.
Hy het aanvanklik skuld beken, maar beweer nou hy het toe gelieg omdat brig. Piet Byleveld, ondersoekbeampte in die saak, hom gedwing het om ’n bekentenis af te lê.
Zaais Van Zyl, staatsaanklaer, het aangevoer dat Moodley tydens die aanvanklike verhoor die geleentheid gehad het om aan die hof te sê of hy gedwing is om die bekentenis af te lê.
– Volg Nuus24 op Twitter