'Moodley het 2 kanse op appèl'
2012-02-03 07:00
Johannesburg – Die moordenaar van Leigh Matthews het ingevolge wetgewing nog twee kanse om teen sy skuldigbevinding te appelleer.
“Hy het in die hof gesê hy gaan nie ophou nie. So, ek dink ons sal hom weer sien,” het adv. Zaais van Zyl, staatsaanklaer, gesê nadat die Suid-Gautengse hooggeregshof Donovan Moodley (31) se aansoek om ’n herverhoor eergister verwerp het.
Regter Joop Labuschagne het in sy uitspraak bevestig Suid-Afrikaanse wetgewing maak nie voorsiening vir ’n hersieningsaansoek, of aansoek om herverhoor, soos Moodley ingedien het nie.
“Die enigste manier hoe ek dié aansoek kan oorweeg, is as ’n aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding.”
Dit was dié aansoek wat Labuschagne van die hand gewys het en wat Moodley nou in die appèl- en konstitusionele hof verder kan voer.
Van Zyl het gesê Moodley het reeds in 2009 sy ander roete, ’n aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis, tot by die konstitusionele hof uitgeput.
“Dié aansoek (teen sy skuldigbevinding) is nou sy enigste oorblywende roete.”
Moodley is in 2005 skuldig bevind op aanklagte van menseroof en moord van Matthews en die afpersing van haar pa, Rob.
Moodley het nou 14 dae om spesiale verlof tot appèl by die president van die appèlhof in te dien.
Hoewel Matthews se moord ná sowat sewe jaar steeds ondersoek word, wou adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, geen besonderhede daaroor bekend maak nie.
“Ek kan net bevestig ’n provinsiale span speurders stel nou ondersoek in of ander mense by Matthews se moord betrokke was. Die ondersoek is té sensitief om meer te sê.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld