Molestering-slagoffer (9) se pa stort inmekaar
2011-03-09 06:49
Bloemfontein - Die ouers van ’n negejarige Bloemfonteinse meisie wat deur ’n jong, gevonniste ontbloter van die stad gemolesteer is, wens geen ander familie die trauma van die afgelope maande toe nie.
Nogtans is die gesin reg om met hul lewe voort te gaan, het die ma van die gemolesteerde meisie Dinsdag gesê.
Tydens die verhoor van Jacobus Grobler (19), wat Vrydag op drie aanklagte van seksuele misdaad gevonnis is, het die ouers van die meisie 6 800 handtekeninge ten gunste van tronkstraf ingesamel.
Die meisie se ma het Dinsdag aan Volksblad gesê dat die hele familie die uitkringende nagevolge van dié trauma beleef.
Haar man het Sondagoggend begin siek voel en inmekaar gesak.
Hy is sedertdien weens spanning op siekteverlof geplaas.
“My man, my suster, ons dogter se geliefde nefie, my ma en pa – álmal is geraak. Geen oupa en ouma wil sien dat hul kleinkind só iets moet deurmaak nie. Sy moet mos ’n vrye en gesonde kinderlewe geniet. My man was die een wat deurentyd vir almal moes sterk bly.
“Ek het verlede week nog gehuil. Ek was nog so kwaad, terwyl my man die hele tyd net sterk gestaan het. Hy het Sondagoggend begin siek voel. Nie lank daarna nie, het hy inmekaar gesak.”
Grobler het op drie aanklagte van seksuele misdaad skuld erken.
Hy het homself voor laerskoolmeisies by twee Bloemfonteinse laerskole ontbloot en een meisie gemolesteer.
Grobler is drie jaar korrektiewe toesig opgelê. Sy tronkstraf van vyf jaar is vir vyf jaar opgeskort.
Hy betaal ingevolge sy vonnis R23 000 in paaiemente van R1 000 per maand aan die gesin af vir hul dogter se sielkundige behandeling.
Oor Grobler se vonnis sê die gemolesteerde meisie se ma sy hoop hy gryp hierdie geleentheid vir rehabilitasie aan.
- Volksblad