Molesmakers ontwrig eksamen
2009-11-14 10:15
Marelize Potgieter
Kaapstad - Hulle het soos swerms bye op die skool toegesak en was soos wolwe op soek na hul prooi. Jy kon die boosaardigheid in hul oë sien.
Só het ’n getraumatiseerde Bongani Mfikili, hoof van die Sekondêre Skool Thembelihle in Khayelitsha, gister gesê.
Altesaam 19 matriekleerders aan die skool, 89 leerders aan die Sekondêre Skool Sinethemba en 70 leerders aan die Sekondêre Skool Ntsebenziswano, albei in Nyanga, is gisteroggend deur ’n groep molesmakers oorval terwyl hulle in ’n lokaal agter die skoolsaal hul fisiese wetenskap-vraestel geskryf het.
Dié groep van sowat 150 het bestaan uit leerders van die Lagunya-afrondingskool in Langa en lede van die Congress of South African Students (Cosas).
Die optog spruit uit ongelukkigheid oor die Wes-Kaapse onderwysdepartement se voorneme om die Lagunya-afrondingskool te sluit.
Volgens Mfikili het die amokmakers die perseel met gholfstokke, messe en gewere om hul middellywe binnegestorm. Hulle is deur die saal na die lokaal waar die eksamen geskryf is.
“Hulle het die leerders se vraestelle en antwoordstelle opgeskeur en hulle verbied om verder te skryf.
“Van die mense het gedreig om my te slaan en een van die sekerheidswagte se gewrigte is in die voorval beseer,” het Mfikili gesê.
Die voorval het plaasgevind terwyl die Save the World-stigting ’n uitreik-aksie in die skoolsaal vir die res van die skool se leerders aangebied het.
Clem Simpson van Save the World het gesê hy het twee skote in die gebou hoor afgaan. “Ons het net aangehou preek.”
Leerders van al drie skole is ná die voorval gekalmeer en het die eksamen later die dag weer geskryf.
Volgens kapt. Ntomboxolo Sitshitshi, woordvoerder van die Nyanga-polisie, is 113 lede van die groep deur die polisie vir ondervraging ingeneem.
Die voorsitter van Cosas in die Wes-Kaap, Benjamin Zantsi, en nege ander is in hegtenis geneem op aanklagte van betreding en aanranding met die opset om ernstige te beseer. Twee van die tien word ook deur aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar.
Volgens Sitshitshi is een van die matrikulante se been in die voorval beseer.
Die WKOD het ’n interdik teen Cosas aangevra, wat sal verhoed dat enige lede van dié groep naby ’n staatskool of eksamensentrum mag kom. Volgens die provinsiale minister van onderwys, Donald Grant, sal dié tipe gedrag nie geduld word nie.
–
Die Burger