Mogoeng: 'Ek's nie homofobies'
2011-09-03 11:12
Kaapstad – Vigsaktiviste het Saterdagoggend in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gedans en gesing voor die Regterlike Dienskommissie (RDK) se onderhoud met regter Mogoeng Mogoeng.
"Die TAC het baie probleme met regter Mogoeng se aanstelling," het Mark Heywood, woordvoerder vir die Treatment Action Campaign (TAC), gesê.
"Ons voel baie sterk dat hy nie die geskikte kandidaat is nie."
Heywood sê Mogoeng het 'n groot hoeveelheid besluite gemaak wat daarop dui dat hy "patriargie" voorstaan en te sag is op verkragters en mense wat vroue mishandel.
"Ons het regter Mogoeng se geskrewe aansoek aan die RDK deeglik bestudeer, maar sy antwoord is nie voldoende nie.
"Sy besluite is vanselfsprekend."
Mogoeng het in sy antwoord aan die RDK gesê hy is nie homofobies of geslags-onsensitief nie, en dat hy genoeg ervaring het vir die posisie.
Mogoeng is deur pres. Jacob Zuma genomineer om die land se volgende hoofregter te wees ná die aftrede van regter Sandile Ngcobo.
'n Onderhoud word Saterdag in 'n spesiale sitting met Mogoeng gehou om sy geskiktheid as kandidaat te bespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA