'Moenie oorhaastig oor televisie besluit'
2010-09-12 09:54
Kaapstad - Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie het die regering
die afgelope week gewaarsku teen oorhaastige besluite wat groot
koste-implikasies vir televisiekykers kan hê, veral dié sonder
satellietskottels.
In ’n verslag wat die portefeuljekomitee die
afgelope week ná ’n studiebesoek aan Brasilië en Brittanje uitgereik
het, word die regering tot versigtigheid gemaan.
Die DA-LP en
uitsaaikenner Niekie van den Berg het dit saamgevat: “Neem die
regte besluit in belang van Suid-Afrika; nie in belang van Brasilië
nie.”
Wat hier ter sprake is, is die oorskakeling van analoë na
digitale seine om televisieprogramme te versend. Tot dusver is analoë
seine gebruik. Aan die einde van 2015 word die analoë seine afgeskakel
en na digitaal oorgeskakel.
Dit hou omvattende tegniese voordele
in, maar het ook tot gevolg dat mense sonder
nuwe-generasie-televisiestelle aan die einde van 2015 nie meer
televisiebeelde sal kan ontvang nie.
Sulke televisie-eienaars sal ’n dekodeerder moet aanskaf. Tans kos dit ongeveer R700, maar die koste neem deurgaans af.
Ten
einde soveel moontlik arm gesinne met die koste van die omskakeling te
help het die regering reeds hulp van sowat R1 miljard, deels uit die
belasting wat selfoonmaatskappye betaal, bewillig.
Na raming sal
sowat 5 miljoen daardeur gehelp kan word, en wanneer die omskakeling
gebeur, sal dit die hele Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap
(SAOG) raak.
Dit beteken daar is groot geld te maak uit die
omskakeling en dis presies op hierdie punt dat die portefeuljekomitee se
rooi vlaggie opskiet, want daar is meer as een stelsel waarvolgens die
omskakeling kan geskied.
Luidens die kabinetsbesluit in 2008 oor
die kwessie sal die Europese standaarde en stelsel geld, maar die ander
land wat die omskakeling sou kon doen en ekonomies daardeur bevoordeel
sou kon word, is Brasilië.
Dis hoekom die portefeuljekomitee die
studiebesoek aan Brasilië gebring het waar hulle, in Van den Berg se
woorde, aan ’n “Brasiliaanse bombardement” onderwerp is.
Vanuit
die Suid-Afrikaanse regering is daar ’n politieke verstekposisie dat
Brasilië en Indië uiters belangrike potensiële vennote is.
Van
den Berg verduidelik egter die portefeuljekomitee se vermaning aan die
hand daarvan dat dit baie duur sou wees om in dié laat stadium van die
Europese na die Brasiliaanse model oor te skakel.
Voorts is
plaaslike standaarde vir dekodeerders volgens die Europese model reeds
beding, en kan die inwerkingstelling van die Brasiliaanse model ’n
proses wat reeds moeilik sal wees om betyds af te handel selfs verder
vertraag.
- Rapport