'Moenie Sondagverkragter se foto's publiseer'
2012-02-01 11:10
Johannesburg – Die prokureur van die vermeende Sondagverkragter Johannes Jacobus Steyn het die streekhof in Krugersdorp gevra om ‘n bevel wat die publikasie van sy kliënt se foto verbied, weer in te stel.
“Dit (die bevel) is op 13 Oktober blatant deur die media geïgnoreer... dit is oral gepubliseer... en op sosiale netwerke soos Facebook en Twitter,” het die prokureur Jack van Heerden gesê.
Die bevel is op 17 Oktober uitgereik ná dit kommer gewek het dat dit uitkenningsparades kan belemmer.
Die staat het aangevoer dat die foto’s wat op 13 Desember gepubliseer is nie die saak belemmer het nie.
“Dit is ‘n hoë-profiel-saak... dit het groot openbare belang.... die media moet toegelaat word om die foto’s te publiseer,” het aanklaer Carina Coetzee gesê.
Die herinstel van die bevel sal nie die saak bevooroordeel nie, maar sy kon nie sê of dit die verdediging se saak sal bevooroordeel nie.
Steyn staar 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering, een van moord en ses van seksuele aanranding in die gesig.
Hy het De Waal glo in Oktober in Roodepoort, wes van Johannesburg, kort voor haar 17de verjaardag ontvoer.
‘n Verkoolde lyk, wat vermoedelik die van De Waal was, is later dieselfde dag op ‘n plaas in Magaliesburg gevind.
Steyn het homself die volgende dag by die Margate-polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee.
Die polisie het gesê Steyn het erken dat hy die “Sondagverkragter” is, maar hy het nie skuld erken op die moord op De Waal nie.
Hy het glo sedert 2008 verskeie jong meisies in Gauteng en in die Noordwes verkrag, meestal op Sondae.
Twee sake van ontvoering wat Steyn glo in Rustenburg en Potchefstroom gepleeg het sal ook in die Krugersdorp-landdroshof aangehoor word.
Die staat het aansoek gedoen dat al die aanklagte teen hom gesentraliseer moet word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA