Moeilikheid oor 'marmot-moordfliek'
2009-08-27 18:21
Johannesburg- Die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika (UKKSA) het klagtes dat ‘n diere-moordfliek op DSTV se reiskanaal uitgesaai is, van die hand gewys.
Dit kom nadat ‘n toneel in ‘n reisprogram gewys is waar ‘n marmot se keel afgesny word.
“Kykers wat na dokumentêre programme kyk moet besef dat ander kulture se leefwyse dalk van hulle eie kan verskil. Hulle loop die risiko om met sulke tonele gekonfronteer te word,” het die UKKSA in ‘n persverklaring gesê.
Tydens die dokumentêr op DSTV se reiskanaal is daar gefokus op die leefstyl van persone in Peru, Suid-Amerika. In een toneel wys ‘n sjef hoe hulle ‘n marmot voorberei vir ete.
Die marmot se keel word afgesny, sy bloed gedreineer, die vel verwyder en die binnegoed uitgehaal voordat dit gekook word.
Volgens die UKKSA het die kamerawerk daartoe bygedra dat die toneel minder gru was.
Een klaer het gesê sy is “baie omgekrap” oor die dokumentêr en het dit selfs met ‘n diere-moordfliek vergelyk.
Maar die kommissie is dit eens dat dié toneel ‘n eerlike weerspieëling is van die eetgewoontes van mense in Peru. Na bewering eet Peruane sowat 65 miljoen marmotte ‘n jaar.
–Sapa