Moegheid dalk oorsaak van noodlottige ongeluk
2012-12-15 08:40
Johannesburg – 'n Vrou is dood en drie mense is beseer in 'n ongeluk Saterdag in die Dwinddie-gebied van Germiston, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.
"[Die bestuurder van] 'n Hyundai Getz wat op Black Reef-straat in die rigting van Katlehong gery het, het beheer oor die voertuig verloor, 'n randsteen getref en reguit in 'n muur by 'n ingenieursfirma vasgery," het Kobeli Mokheseng, 'n woordvoerder vir die metropolisie, gesê.
Die 23-jarige manlike bestuurder en twee vroulike passasiers, albei in hulle twintigs, is met ernstige beserings na die Natalspruit-hospitaal geneem. Die ander passasier, 'n 28-jarige vrou, is op die toneel dood.
"Dis nie duidelik wat voor die ongeluk gebeur het nie, maar 'n voorlopige ondersoek het daarop gedui dat moegheid dalk 'n rol gespeel het," het Mokheseng gesê.
'n Saak van strafbare manslag is by die Elsburg-polisiestasie geopen.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA