Moeg vir Malema? Kom na Australië, sê leraar
2011-06-28 08:00
'n Afrikaanse predikant in Australië en die moderator van die NG Kerk het uiteenlopende menings oor emigrasie weens die uitsprake van Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga.
Dr. Jan Grey, predikant aan die Australiese Goudkus, meen enigeen wat dit oorweeg om Suid-Afrika te verlaat, moet Australië toe kom.
Grey sê hulle bly lekker en hou lekker kerk in Australië. Daar is amper geen moord of doodslag nie en die toekoms is rooskleurig.
Hy is egter bekommerd oor Australiërs se lewensbeskouing, wat volgens hom wissel van sekulêr-humanisties tot ateïsties.
“Hulle is doodgewoon losbandig en uitgelewer aan ’n ongebreidelde hedonistiese lewenstyl,” skryf Grey per e-pos.
Dis net hier waar Suid-Afrikaners, wat volgens Grey grotendeels ’n stewige Christelike onderbou het, ’n groot bydrae kan lewer, meen hy.
Daar is volgens Grey ’n groot tekort aan Christene en onbeperkte geleentheid om gemeentes te stig.
Hy sien in sy geestesoog ’n magtige geestelike herlewing in Australië, maar dan moet Christene van Suid-Afrika gaan help as hulle deur die Here so gelei word.
Prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, sê egter dié kerk se algemene sinode het sedert 2002 herhaaldelik in ’n roepingsverklaring bevestig dat die kerk van Afrika is.
Die NG Kerk glo God wil sy mense hier gebruik en volgens Strauss loop ’n mens nie so maklik van ’n roeping af weg nie.
Hy weet Malema ontstel baie mense met sy uitsprake, maar die meeste swart mense is nie so radikaal soos Malema nie.
Die bydrae wat die kerk se lidmate in Suid-Afrika kan lewer, is belangrik en daar is nog genoeg ruimte om dit te kan doen, sê Strauss.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld