Moe Shaik dalk Zuma se spioene-baas
2009-08-30 13:30
Makhudu Sefara
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma wil een van die Shaik-broers aanstel as die land se nuwe superspioen.
Rieaz “Moe” Shaik, broer van Zuma se voormalige finansiële raadgewer Schabir Shaik, is glo die voorloper om die huidige direkteur-generaal van die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), Manala Manzini, te vervang.
Manzini se kontrak verstryk môre en hy is reeds ingelig dat dit nie hernieu sal word nie.
Die nuwe direkteur-generaal sal verantwoordelik wees vir die NIA en die geheime diens, wat ’n gedaanteverwisseling sal ondergaan om in te pas by die nuwe regering se behoeftes.
“Die NIA en die geheime diens gaan binnekort in een groot superspioen-struktuur verander met Moe aan die stuur.
“Weens al die agterdog en paranoia wat heers ná die intelligensiestrukture se duidelike inmenging in die besluit om die korrupsieklagte teen Zuma te laat vaar, word verwag dat die huidige administrasie een liggaam in beheer van al die intelligensie-strukture wil hê,” het ’n ingeligte aan Rapport se susterskoerant City Press gesê.
Shaik het gister gesê: “Ek het tot dusver nog nie ’n aanbod gekry om enige pos in die intelligensiediens te vul nie.” Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het gesê die ANC het nog nie oor ’n opvolger vir Manzini gepraat nie.
Volgens Vincent Magwenya, presidensie-woordvoerder, sal ’n aankondiging gedoen word nadat al die prosedures afgehandel is.
Shaik se jare lange vriendskap met Zuma het begin toe hulle in die apartheidsjare saam in die ANC se intelligensiestrukture bedrywig was.
Meer onlangs het Shaik konsternasie veroorsaak toe hy aan ’n groep studente by die Universiteit van Pretoria gesê het die korrupsieklagte teen Zuma gaan laat vaar word. Enkele dae later het die nasionale vervolgingsgesag aangekondig dat Zuma nie vervolg gaan word nie.
Shaik se broer Schabir, wat glo terminaal siek is, is vroeër uit menslikheidsoorwegings uit die tronk vrygelaat.
Shaik word egter nie deur almal in die ANC ondersteun nie. Gibson Njenje, wat in 2005 die NIA se direkteur van operasies was, word ook as ’n moontlike opvolger vir Manzini genoem.
Njenje het destyds bedank nadat min. Ronnie Kasrils hom geskors het ná die omstrede vals-e-pos-skandaal.
– Rapport