'Modimolle-monster' wou vrou glo help
2012-11-22 08:10
Johannesburg – Die vermeende "Modimolle-monster", Johan Kotze, sê hy het sy vrou probeer help deur haar aanvallers te smeek om haar nie seer te maak nie, het OFM Donderdag berig.
Bernard Bantjes, Kotzé se prokureur, het Woensdag sy kliënt se weergawe van die gebeure van 3 Januarie, toe Kotzé se eksvrou, Ina Bonnette, verkrag en gemartel is, aan die hooggeregshof in Pretoria voorgelê.
Bonnette het Dinsdag begin getuig teen Kotze, Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka.
Die vier word daarvan aangekla dat hulle Bonnette se 19-jarige seun, Conrad doodgeskiet het, asook van ontvoering, verkragting, aanranding en poging tot moord.
Bonnette sal Donderdag, vir die tweede dag, onder kruisverhoor geneem word.
Streng regulasies is op joernaliste geplaas rakende waaroor berig mag word tydens Bonnette se getuienis in-kamera.
Volg Nuus24 op Twitter.
– OFM