Miyeni wil werkgewers dagvaar
2011-08-02 20:03
Johannesburg – Die Sowetan-rubriekskrywer Eric Miyeni oorweeg regstappe teen sy voormalige werkgewers wat hom oor ‘n rubriek afgedank het.
Miyeni het in sy rubriek “Haffajee does it for white masters” die redakteur van City Press, Ferial Haffajee, ‘n “agent van wit kapitaliste” genoem.
“Ek is geskok. Ek kon glad nie slaap nie,” het hy Dinsdag oor sy afdanking gesê.
Hy het sy vorige werkgewers by die Sowetan, wat deur Avusa Limited besit word, gekritiseer dat hulle “nie hul redaksionele funksie gedoen het nie en dan joernaliste na die tyd afdank.”
Die voormalige redakteur van Sunday Times, Mondli Makhanya, het ‘n rubriek deur David Bullard goedgekeur en daarna om verskoning gevra oor die stuk se rassistiese inhoud. Miyeni sê Makhanya is bevorder en Bullard is afgedank.
Sunday World het in Februarie ‘n stuk oor kleurlinge – "Jou Ma Se Kinders" – deur Kuli Roberts gepubliseer. Roberts is ook afgedank.
“Waar is die aanspreeklikheid?” vra Miyeni.
Makhanya kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA