Mishandelde perde gered
2011-07-12 09:00
Welkom - Twee klagte van dieremishandeling word hier teen trekboere ondersoek nadat vier perde in haglike omstandighede in ’n te klein, ongelisensieerde waentjie vervoer, hulle op mekaar geval en een van hulle erg beseer is.
As dit nie daarvoor was dat motorbestuurders in Welkom die diere se lyding betyds gesien en die dierebeskermingsorganisasie Claws ontbied het nie, sou die een merrie se beserings moontlik so erg gewees het dat sy van kant gemaak sou moes word.
Die merrie se regter-agterbeen is tot op die been oopgekloof toe dit deur die tralies van die waentjie gesteek het toe sy val.
Die twee volwasse merries en ’n groot vul het in die waentjie al drie bo-op ’n kleiner vulletjie gelê toe Claws die bestuurder van die bakkie in Tempestweg afgetrek het.
Rochelle Tonks van Claws sê drie van die perde se bene het toe deur die tralies gesteek en hulle kon nie weer regop kom nie. Hulle kon nie die waentjie daar in die straat oopmaak om die diere te help nie, uit vrees dat die perde in die strate tussen die motors sou inhardloop.
Een van die Claws-helpers het by die bestuurder in die bakkie geklim en daar is met die diere na Claws se kantoor in Welkom gery.
Daar is die waentjie oopgemaak en die perde is regop gehelp en gehelp om uit die waentjie te klim. Bloed van die perde se wonde het uit die waentjie gestroom.
Die diere, wat erg dors was, is water en kos gegee en ’n veearts is ontbied om die gapende wond aan die merrie se been te heg.
Met Volksblad se besoek aan Claws het bloed uit die reeds verbinde wond aan die merrie se been gestroom voordat die veearts hegsteke ingesit het.
Die bestuurder van die bakkie het aan Volksblad gesê dat hy op grond van die Beatrix-goudmyn tussen Theunissen en Welkom boer, maar geen huurgeld aan die myn betaal nie.
Hy sê hy was met die perde na ’n veearts in Welkom op pad om ingespuit te word.
Hy kon nie verduidelik waarom hy nie gestop het om die perde te help toe hy sien dat hulle val en hulself beseer nie. Hy kon ook nie sê hoe ver hy met die perde, waarvan die bene deur die tralies steek, gery het voordat Claws hom van die pad getrek het nie.
Hy en ’n man wat saam met hom was, het eienaarskap vir die vier perde aanvaar. Hulle sê egter hulle het nie geld om die veeartskoste vir die behandeling van die merrie te betaal nie.
Claws het klagte van dieremishandeling teen albei mans ingedien en die perde sal tot ná afhandeling van die hofsaak onder Claws se sorg bly. Die hof sal beslis of die diere aan die eienaars teruggegee moet word en of hulle aan die permanente sorg van Claws oorhandig sal word.
Cindy Bortnowski, ook van Claws, vra dat enige ander mense wat gesien het hoe en waarvandaan die perde in die haglike omstandighede vervoer is, haar of Tonks by 072-226-1735 of 083-774-5888 bel.
Sy sê hulle bedank die Dierebeskermingsverenigings (DBV) van Virginia en Welkom wat hulle te hulp gesnel het.
Claws, ’n nie-winsgewende organisasie wat geen staatshulp kry nie, vra dat enigiemand wat hulle met kos vir die versorging van die perde, medisyne of verbande vir die beseerde perd, wat gereeld vervang moet word, of met geld daarvoor kan help, om hulle te kontak.
- Volksblad