Misdadiger laat vaar aansoek om borgtog
2011-08-29 13:29
Pretoria – Die borgtogaansoek van een van Suid-Afrika se mees gesoekte misdadigers, Bongani Moyo, is Maandag in die Pretoriase landdroshof laat vaar.
Sy regsverteenwoordiger sê ‘n ooreenkoms is met Moyo aangegaan dat daar geen vooruitsig van sukses is nie.
Dit volg ná sy twee ontsnappings vanjaar.
Die 29-jarige verdagte het in Maart uit die Boksburgtronk ontsnap.
Hy het vroeër vandeesmaand op krukke uit die Pretoriase streekshof ontsnap. Hy was ten tyde van die ontsnapping nie toegesluit of in voetboeie nie.
Moyo, wat van 35 bankrooftogte aangekla word, is Sondagaand weer in Hillbrow, Johannesburg, vasgetrek.
Hy sal in aanhouding bly totdat hy op 16 September saam met sy drie medebeskuldigdes, Leon Ncube, Thabani Sibanda en Khubulani Sibanda, in die hof moet verskyn.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA