Misdaadsyfers lyk positief
2010-09-09 15:47
Kaapstad - Nathi Mthethwa, die minister van polisie, het Woensdag in Pretoria die nasionale misdaadstatistieke vir die afgelope jaar bekendgemaak.
Volgens Mthethwa het die suksesvolle bekamping van misdaad deur sekuriteitsmagte Suid-Afrika se internasionale beeld verbeter.
Moord is af met 8.6%. Dit is die grootste afname sedert 1995, met minder as 17 000 mense wat die afgelope jaar vermoor is, berig Sapa.
Poging tot moord en seksuele oortredings het onderskeidelik met 6.1% en 4.4% gedaal.
Bankroof het met 8.8% gedaal. Gewapende roof is af met 7.5%, terwyl roof met verswarende omstandighede af is met 7.8%.
Dit is die eerste keer sedert 2005 wat roof met verswarende omstandighede gestabiliseer het. Ten spyte van die afname in moord en prioriteitsmisdade , sê Mthethwa dat daar in die laaste jaar ‘n toename was in inbrake van residensiële wonings.
Huisbrake het met 2.7% toegeneem, maar volgens die minister het die getal begin stabiliseer, met hierdie misdade wat “oor die laaste vyf jaar teen ‘n skokkende tempo teen ‘n gemiddeld van 25% toegeneem het”.
Daar was ook ‘n toename in kommersiële misdade, wat met 8.1% gestyg het.
Vragmotorkapings het gedaal, terwyl motorkapings met 6.8 % af is.
“Ons sal daarna strewe om te verseker dat ons verbeter, deur vennootskappe met verskillende belanghebbendes te kweek,” het Mthethwa gesê.
Transitorooftogte het met 7.3% gesak.
Dwelm- en drankverwante misdaad het egter gestyg en Mthethwa het bekendgemaak dat 110 polisielede in die afgelope jaar dood is.
Bestuur onder die invloed van drank en dwelms het met 10,6% gestyg.
Op ‘n positiewe noot het Mthethwa gesê dat die Valke in die afgelope jaar 46 van die 50 mees gesoekte kriminele in hegtenis geneem het.
Polisie-statistikus genl. Chris de Kock het gesê dat daar 2,1 miljoen ernstige misdade in die afgelope jaar was.
Dit sluit in kontakmisdade, rooftogte, eiendom-verwante misdade, winkeldiefstal en diefstal.
Van die 2,1 miljoen was 31.9% kontak-misdade, wat aanranding, aanranding met die doel om te beseer, moord en poging tot moord, sowel as roof met verswarende omstandighede insluit.
Volgens De Kock is dit “die eerste keer in die SAPD se geskiedenis dat die moordsyfer onder 17 000” was.
“Dit is ‘n merkwaardige mylpaal, siende dat moord die mees betroubare misdaadsyfer in die wêreld is,” het De Kock gesê.
Nasionale polisiekommissaris Bheki Cele het gesê dat die polisie se moraal in die laaste jaar baie verbeter het.
Cele het ook genoem dat 50% van die land se misdaad in Gauteng plaasvind, maar hy het bygevoeg dat met die moraal van die polisie wat verbeter, sowel as goeie leieskap, “die situasie sal begin verander”.
- Sapa, Times Live