Misdaadstatistiek bekend gemaak
2011-09-08 09:24
Johannesburg – Nathi Mthethwa, minister van polisie, sal Donderdagoggend in Pretoria die misdaadstatistieke vir die 2010/2011 finansiële jaar bekendmaak, het 'n woordvoerder gesê.
Die adjunkminister van polisie, Maggie Sotyu, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, sal ook die verrigtinge die Sheraton-hotel bywoon.
Verlede jaar se statistieke het die grootste afname in die moordsyfer sedert 1995 getoon. Die moordsyfer was minder as 17 000.
Vir die jaar wat in Maart 2009 geëindig het, was daar 18 148 moorde.
Verlede jaar het die syfer vir poging tot moord met 6,1% gedaal. Die getal seksuele misdade het met 4,4% gedaal. 'n Totaal van 26 311 is in hegtenis geneem in verband met seksuele misdade.
Die aantal transitorooftogte het verlede jaar met 7,3% afgeneem, bankrooftogte het met 8,8% toegeneem, terwyl motor- en vragmotorkapings met 6,8% afgeneem het.
Mthethwa het toe gesê dit is krities om korrupte polsiebeamptes uit dié mag te verwyder.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA