Misdaadstatistiek: Afname verwag
2011-09-08 09:47
Pretoria – Die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS) het gesê hy verwag 'n geleidelike afname in die jongste nasionale misdaadstatistieke.
Die misdaadstatistieke vir die 2010/2011 finansiële jaar sal Donderdagoggend in Pretoria bekend gemaak word.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het 'n verbetering op vorige jare se statistieke voorspel.
Dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies, het gesê: "Ons verwag om die tendens te sien wat sedert 1995/1996 daar is en ons verwag dat dit sal voortduur in terme van verdere afnames."
Burger het egter gewaarsku dat haatmisdade soos xenofobie onder die radar bly.
Hy verwag dat die moordsyfer sowat 30 moorde per 100 000 gaan wees in vergelyking met verlede jaar se 34,1 moorde per 100 000, berig Beeld.
“Die goeie nuus is dat die moordsyfer die laaste paar jaar aanhou daal. Teen dié tempo behoort ons binne ’n paar jaar by die internasionale gemiddelde van 7,5 moorde per 100 000 te kom.”
Burger het gesê 60,5% van alle moorde vind plaas in interpersoonlike verhoudings “waaroor die polisie geen beheer het nie”.
Volgens hom was daar reeds verlede jaar ’n afname in huisrooftogte, rooftogte by sakeondernemings en kapings.
Die Suid-Afrikaanse bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) se statistieke wys afnames in die getal transito- en bankrooftogte, maar ’n toename in kitsbank-ontploffings.
Burger het gesê Suid-Afrika het baat gevind by verlede jaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi met die “veiligheidskombers” wat oor die land gegooi is.
Die polisiepraktyke wat tydens die toernooi ingestel is, het ’n demper op misdaadbedrywighede geplaas, het hy gesê.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter