Misdaad teen kinders betreur
2012-01-03 08:47
Kaapstad – Kindermoordenaars en -misbruikers moet in die tronk verrot, het Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede, gister gesê.
Sy vind dit veral kommerwekkend en hartseer as die oortreder ’n ouer is.
’n Tweejarige seun van Mitchells Plain, Tauriq Jacobs, het verlede week in die Town Centre vermis geraak. Sy ma het volgens die polisie die naweek tydens ondervraging erken sy het haar kind vermoor. Sy verskyn vandag in die plaaslike landdroshof.
’n Driejarige meisie van Gauteng was gister in ’n stabiele toestand in die hospitaal ná ’n skietvoorval waarin haar polisieman-pa na bewering haar ma, haar babasussie en homself doodgeskiet het.
Cornelius Monama, Xingwana se woordvoerder, het gister by navraag gesê die minister doen voortdurend ’n beroep op wetstoepassers vir ferm optrede teen enige vorm van misdaad teen kinders.
“Die minister glo as die howe die sterkste moontlike vonnis vir die skuldiges oplê, dit ’n sterk boodskap sal uitstuur.”
Joan van Niekerk, bestuurder vir advokaatskap en opleiding by Childline, het gesê dit is ’n wanopvatting dat Kersfees en Nuwejaar ’n gelukkige tyd is vir almal.
“In gevalle waar gesinne emosionele probleme ervaar, kan Kersfees ’n tyd van groot ongelukkigheid wees, veral as jy nie ’n toekoms vir jouself of jou familie sien nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger