Misdaad in townships ‘drank se skuld’
2010-10-24 23:26
Johannesburg - Tagtig persent van misdade wat plaasvind in Suid-Afrika se derde mees dig bevolkte township, Motherwell in Port Elizabeth, is alkoholverwant, het die polisie Sondag gesê.
Die bevelvoerder van die Motherwell-polisiekantoor, Keith Meyer, het gesê die township van 13 vierkante kilometer het 106 gelisensieërde shebeens en heelwat onwettige shebeens.
“Buiten dronkbestuur en inhegtenisnemings vir oproerige gedrag, is sewe gewapende rowers in hegtenis geneem nadat hulle ‘n winkel, wat deur Somaliërs besit word, beroof het. Die mans, wat tussen 18 en 26 jaar oud is, sal Maandag in die hof verskyn. Nog ‘n man is in hegtenis geneem nadat hy in besit van gesteelde goedere, wapens en kontant betrap is,” het Meyer gesê.
Intussen is ‘n 19-jarige man in Nellmapius, naby Mamelodi, in hegtenis geneem nadat hy ‘n ander man doodgesteek het tydens ‘n bakleiery oor ‘n meisie. Shawane Sepato, polisiewoordvoerder, het gesê die stryery het in ‘n taverne begin.
Volgens Sepato het een man die ander met ‘n skerp voorwerp gesteek. Die man is by die hospitaal dood verklaar.
Die polisie het 145 verdagtes vir verskeie misdade in hegtenis geneem tydens ‘n operasie in Mamelodi.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA