Misdaad in SA 'nie die ergste ter wêreld'
2010-03-10 06:10
Lizel Steenkamp
Kaapstad-Suid-Afrika se misdaad is nie die ergste ter wêreld nie, meen komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof.
Hy het Dinsdag in die parlement gesê daar is geen statistiese bewyse vir die “wilde aanname” dat meer misdaad hier as elders ter wêreld aangemeld word nie.
“Waar kom dié vergelyking vandaan? Waarop baseer mense dit as daar geen Interpol-statistieke is om dit te staaf nie? Dit is verkeerd!” het Cele aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê.
Volgens hom verswyg talle ontwikkelende lande soos dié in Suid- en Sentraal-Amerika hul statistieke en skep dit ’n verwronge beeld van misdaad hier.
Komiteelede het verstom gesit en luister na sy verklaring dat hier “baie minder” kapings as in ander lande is. Hy het wel toegegee misdaad is wreedaardig en gewelddadig. “Jy word nie net gekaap nie, maar ook geskiet en verkrag.”
Hy het voorts aangevoer sekere misdade is veel erger in die VSA en Engeland, “waar daar meer mense gesteek word as in enige ander land in die Europese Unie”.
Die polisiehoof het die komitee vroeg-vroeg daaraan herinner hy “word nou ’n generaal genoem” omdat die kabinet die polisie se nuwe rangstruktuur reeds goedgekeur het. Niemand het hul egter daaraan gestuur nie en hy is as “kommissaris” aangespreek.
Komiteelede was duidelik nie beïndruk met Cele nie ná hul vorige vergadering in Pretoria toe die polisiehoof in ’n sweetpak en draftekkies opgedaag het. Daar was weinig reaksie op sy halfhartige grappies en hy is vasgevat omdat die teikens om ernstige geweldsmisdaad jaarliks met tussen 7% tot 10% af te bring, verlaag is.
Sy antwoord was dat die nuwe teiken om misdade soos moord, verkragting en rooftogte met tussen 4% en 7% te verminder “meer haalbaar” is.
Annelizé van Wyk, ANC-LP, het Cele ergerlik daarop gewys dat die verlaging van teikens nie veel gaan doen om landsburgers se persepsies oor misdaad te verander nie.
- Die Burger