Misdaad daal gedurende feesseisoen
2010-01-11 18:03
Pretoria - Daar was gedurende die feesseisoen ’n aansienlike afname onder verskeie misdade, het Nathi Mthethwa, die minister van polisie Maandag gesê.
Transito- en gewapende rooftogte, huisbrake en inbrake, asook diefstal onder besighede het afgeneem, het hy aan verslaggewers in Pretoria gesê.
Gewelddadige rooftogte en motordiefstal het ook drasties afgeneem in vergelyking met dié misdaadsyfers gedurende dieselfde tydeperk in 2008/09.
‘n Afname in motorkapings, motordiefstal, asook straatrooftogte kan “in alle waarskynlikheid" toegedien word aan die verhoogde teenwoordigheid van die polisie.
"Die boodskap dat die polisie misdaad met meer aggressiwiteit gaan beveg, het duidelik tot die hartelose skurke deurgedring,” het Mthethwa gesê.
"Soos ons egter verwag het, was daar dié skurke wat nie na ons geluister het nie en is daarom óf in hegtenis geneem óf dood.”
Mthethwa het gesê die inhegtenisnemings was nie net “pure geluk” nie, maar te danke aan samewerking tussen alle sektore, strategiese en effektiewe beplanning, fokus en benaderings deur intelligensie.
"Ons sal geen genade vir misdadigers toon nie. Ons sal nie nou begin terug staan nadat ons uiteindelik die vrugte begin pluk nie.”
Die provinsies waarop die meeste gefokus was, was die Wes-Kaap, die Oos-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.
‘n Volledige misdaadstatistiek van die feesseisoen sal binne die volgende twee weke bekend gemaak word, het hy gesê.
-Sapa