Minnaar glo teenwoordig tydens moord
2013-02-05 08:19
Johannesburg – ‘n Voormalige minnaar van een van die twee mans wat beskuldig word van die wrede moord op ‘n broer en suster in Northcliff, Johannesburg, het erken sy was teenwoordig toe hulle vermoor is, het The Star Dinsdag berig.
Die vrou, ‘n staatsgetuie in die saak, het ‘n verhouding met een van die beskuldigdes, Paul Mundel, gehad, berig die koerant. Sy is onder getuiebeskerming.
Die broer en suster, Gary Smith en Karen Buchanan, is in Maart 2008 in hul huis vermoor. Hulle is vasgebind, hul tande is uitgetrek en hulle is met veerpyltjies gegooi. Buchanan is verkrag en beide is geskiet.
Die beskuldigdes, Mundel en Kenneth Schroder, staan tereg op aanklagte van moord, verkragting, roof met verswarende omstandighede en die besit van ‘n vuurwapen.
Die vrou het in beëdigde verklarings wat ingedien is as deel van hul borgaansoek, gesê Mundel het haar ‘n jaar ná die moorde ontvoer en 'n paar dae lank verkrag om haar te intimideer sodat sy nie vir die polisie van die moorde sê nie.
Die staatsaanklaer, adv. Nerrisa Muller, sê die vrou het bekendgemaak dat die broer en suster vermoor is vir plofstof waarna die verdagtes op soek was.
Mundel se prokureur, Piet du Plessis, het die vrou se bewerings verwerp en en gesê sy soek net wraak.
Uitspraak sal Dinsdag in die Johannesburg-landdroshof gelewer word in hul borgaansoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA