Ministers bestee duisende aan huurkoste
2011-07-04 09:12
Kaapstad. – Suid-Afrikaanse ministers koop nie net duur ampsmotors nie.
Hulle laat belastingbetalers ook ten duurste betaal vir die vuurwaens wat hulle huur.
Luidens ’n parlementêre vraag deur Ian Ollis, DA-woordvoerder oor arbeid, het die motorhuurkoste vir vier ministers sedert Maart 2010 meer as R865 000 beloop.
Ollis het soortgelyke vrae aan al 34 lede van die uitvoerende gesag en adjunkministers gestel.
Slegs vier ministers het tot dusver antwoorde oor die huurkoste van motors verstrek:
Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, en haar voorganger, Geoff Doidge, het gesamentlik R436 911 aan die huur van motors bestee;
Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, het R251 034 daarop uitgegee;
Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, en sy voorganger, me. Lulu Xingwana, se motorhuurkoste het altesaam R118 083 beloop; en
Dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, het R59 183 daaraan bestee.
Volgens Ollis is die R865 000-uitgawe vir die huur van motors opnuut ’n bewys van hoe roekeloos die regering met staatshulpbronne omgaan.
“Dit kos tussen R700 en R900 per dag om ’n motor soos ’n Mercedes-Benz C-klas te huur,” het hy gesê.
“As iemand dus ’n motorhuurrekening van meer as R200 000 het, beteken dit die betrokke minister huur weekliks ’n motor en dit is nog boonop ’n luukse voertuig.”
Volgens hom is dit onaanvaarbaar dat Richard Baloyi, minister van staatsdiens en administrasie, nog nie veranderinge aan die ministeriële handboek aangebring het soos hy onderneem het om te doen nie.
Sommige lede van pres. Jacob Zuma se kabinet – onder wie Siphiwe Nyanda, voormalige minister van kommunikasie, en dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys – het kort ná hul inhuldiging in Mei 2009 miljoene rande aan duur ampsmotors bestee.
Dit het wye kritiek van opposisiepartye en die publiek ontlok, waarna Baloyi beloof het die voorwaardes in die ministeriële handboek sou hersien word.
“Minister Baloyi het destyds beloof die wysigings sal ‘definitief voor die Wêreldbeker-sokkertoernooi wees’, maar daar het niks van gekom nie,” het Ollis gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger