Ministers aangekla weens besoedeling
2010-05-07 19:05
Pretoria – Kriminele aanklagte is Vrydag by die Brooklyn-polisiestasie aanhangig gemaak teen drie kabinetministers weens die besoedeling van Suid-Afrika se waterbronne.
Volgens Louis Meintjes, adjunkpresident van TLU SA, was hulle verplig om hierdie stappe te neem nadat die ministers niks aan die probleem van waterbesoedeling gedoen het nie.
Die aanklagte is teen Tina Joemat-Pettersson (minister van landbou), Susan Shabangu (minister van mynwese) en Buyelwa Sonjica (minister van waterwese en omgewingsake) gemaak.
“Ons wil hê hulle moet iets doen aan die probleem en die water skoon kry,” het Meintjies gesê.
Volgens hom is die mynboubedryf die grootste sondebok en is hulle verantwoordelik vir sowat 75% van die land se waterbesoedeling.
TLU SA het in sy bewyse teen die ministers gesê dat sowat 70 myne sonder waterlisensies funksioneer en dus die wet oortree.
“Jy kan nie met die toekoms van die 53 miljoene mense van Suid-Afrika rondspeel nie.”
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.