Minister waarsku oor vloede
2011-01-14 10:05
Johannesburg – Die minister van waterwese en omgewingsake, Edna Molewa, het die publiek gewaarsku om bewus te wees van die vloede, maar gesê dat die land nie paniekbevange hoef te wees nie.
Damme, riviere en strome oor groot dele van die land is onder druk ná weke van reën en daar is kommer oor die moontlikheid dat hul walle gaan oorstroom.
Mandla Mathebula, die minister se woordvoerder, het gesê mense wat naby die water woon moet na hoër grond skuif as 'n voorsorgmaatreël.
Die nooddienste se Percy Morokane het gesê rampbestuur is op bystand.
Die reën sal na verwagting tot Dinsdag voortduur.
"In die stadium word daar verspreide buie en donderbuie vir Saterdag en Sondag voorspel wat Sondag en Maandag meer wydverspreid sal wees," het Louis Fernandez, 'n weervoorspeller, gesê.
Fernandez het gesê Saterdag se eendagwedstryd tussen die Proteas en Indië by die Wanderers-stadion in Johannesburg, sal waarskynlik deur die reën ontwrig word.
Lees meer hier
Volg Nuus24 op Twitter