Minister vra om verskoning vir uitlating oor Afrikaners
2013-02-28 07:06
Johannesburg – Lulu Xingwana, minister van vroue, kinders en gestremdes, het om verskoning gevra vir haar uitlatings oor Afrikaner-mans.
"Dit het vir my duidelik geword dat my kommentaar sommige lede van ons gemeenskap ontstel het.
"Ek wil, gevolglik, daardie kommentaar terugtrek en onvoorwaardelik om verskoning vra aan hulle," het sy gesê.
Dié verskoning volg ná Xingwana aan die Australiese Uitsaaikorporasie (ABC) gesê het jong Afrikanermans word grootgemaak om te glo dat hulle vroue en kinders "besit".
"Jong Afrikanermans word grootgemaak in die Calvinistiese geloof en glo hulle besit 'n vrou, hulle besit 'n kind, hulle besit alles, en daarom kan hulle daardie lewe neem, want hulle besit dit," het sy gesê.
"Ons het ook kulturele verskille in ons eie gemeenskappe waar ons vroue het wat gedwing word om te trou en ons hanteer al daardie sake."
ABC het 'n onderhoud met Xingwana gevoer oor die dood van die Paralimpiese kampioen Oscar Pistorius se meisie, Reeva Steenkamp.
Die insetsel, wat Maandag uitgesaai is, fokus op vuurwapengeweld in Suid-Afrika.
"Ek sal hom vra om die waarheid te praat. Ek sal hom vra om vroue te respekteer," het Xingwana gesê.
"Ek sal hom vra om ontslae te raak van sy vuurwapens. Want ek glo as hy nie vuurwapens in sy huis gehad het nie, sou Reeva Steenkamp vandag gelewe het."
Xingwana se uitlatings het 'n hewige reaksie ontlok.
"Hierdie minister het bo enige twyfel bewys dat sy nie geskik is om 'n amp te hê in 'n konstitusionele demokrasie nie," het Jan Bosman, sekretaris van die Afrikanerbond, in 'n verklaring aangevoer.
Ook AfriForum het Dinsdag gesê hy oorweeg dit om 'n klagte teen Xingwana by die gelykheidshof te lê oor haar uitlatings.
Isaac Mangena, MRK-woordvoerder, het gesê die kommissie het drie klagtes van mense ontvang wat meen Xingwana se woorde is rassisties en diskriminerend. Die MRK ondersoek die klagtes.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA