Minister vra beleid ná peperduur verblyf
2009-10-08 08:49
Johannesburg – Nathi Mthethwa, die minister van polisie, het sy kantoor opdrag gegee om ‘n reis- en akkommodasiebeleid op te stel om “onnodige uitgawes” in die toekoms te verhoed, het sy woordvoerder Donderdag gesê.
Dit is in reaksie op ‘n berig in The Star dat dié minister 17 dae by een van Kaapstad se mees luukse hotelle, die vyfster Table Bay Hotel, teen ‘n koste van R235 000 uit belastingbetalers se sakke, gebly het.
Hy het vroeër vanjaar daar gebly terwyl sy huis na vloedskade gerestoureer is.
Zweli Mtnisi, Mthethwa se woordvoerder, het alles Donderdag in ‘n verklaring bevestig, maar hy het gesê dat die minister nie bewus was van die hoë koste van die akkommodasie nie.
“Toe die kwessie van die hotelkostes tot die minister se aandag gebring was het hy ‘n senior amptenaar opdrag gegee om ondersoek oor die saak in te stel,” het Mnisi gesê.
Mthethwa het slegs een aand in die presidensiële suite spandeer, maar hy is nie ekstra gevra daarvoor nie aangesien dit ‘n spesiale aanbieding deur die hotel was.
“Die minister het ook in verskillende kategorieë kamers gebly, afhangend van die beskikbaarheid van die kamers in die tyd wat hy in die hotel gebly het.”
“Die lyfwagte wat in die hotel gebly het, het in die goedkoopste kamers gebly, behalwe vir vier aande wat hulle sonder die wete van die ministerie deur die hotel in luukse kamers geplaas is.”
“Wat die vier aande betref, die amptenaar wat die saak ondersoek is tans in gesprek met die reisagentskap om ondersoek in te stel oor hoekom dit plaasgevind het.”
Die ministerie het ook navraag gedoen oor sekere ekstra kostes wat op die kamer gemaak is, soos telefoon-, mini-kroeg- en wasgoedkostes.
“Die amptelike ondersoekspan het met die reisagentskap gesels om duidelikheid te kry en stappe word in plek gesit om hierdie navrae reg te stel.”
“Hierdie stappe, waar nodig, kan die terugbetaling van buitensporige kostes insluit. Waar sommige van hierdie buitensporige onkostes wel plaasgevind het, sal dit van die betrokke partye teruggeëis word.”
- Sapa