Minister veroordeel moles by tronk
2013-01-08 12:13
Deneysville – S’bu Ndebele, minister van korrektiewe dienste, het die geweld by die Groenpunt-gevangenis in die Vrystaat ten sterkste veroordeel.
Ongeveer 50 gevangenes by die tronk in Deneysville het geringe beserings opgedoen in 'n stormloop toe die polisie die perseel Dinsdagoggend binnegegaan het, het owerhede gesê.
"Hoewel die departement van korrektiewe dienste ten volle toegewyd is aan die menslike behandeling van elke gevangene, is voorvalle van opstande deur gevangenes by korrektiewe sentrums nie aanvaarbaar nie, en sal dit streng hanteer word," het hy gesê.
"Die balans tussen sekuriteit, beheer en geregtigheid is van uiterste belang," het hy gesê.
Gevangenes het Maandag omstreeks 16:00 oproerig geraak toe hulle geweier het om te eet en brande begin stig het.
Polisieversterkings van Vereeniging, Sasolburg en Welkom is ingeroep en skokgranate is gebruik om toegang tot die perseel te verkry.
Die SABC het berig dat die oproer in die maksimum-sekuriteit-vleuel begin het, toe 227 gevangenes hulle eenheid afgesper het en bewaarders verhoed het om dié deel van die tronk te betree.
Volg Nuus24 op Twitter