Minister vat laatkommers vas
2010-07-20 11:45
Kaapstad – Kaapse skoliere wat Dinsdag laat was vir skool moes aan ‘n goeie verskoning dink toe die provinsiale minister van onderwys, Donald Grant, hulle vasgevat het.
Grant het by die Golden Acre-winkelsentrum naby die Kaapstad-stasie gestaan en laatkommers aangespreek.
Volgens hom maak verskeie leerlinge van publieke vervoer gebruik om by die skool te kom en blameer hul gereeld dié vervoerstelsel as hulle laat opdaag by die skool.
“Die realiteit is dat hierdie vertragings in die treinskedule nie elke dag plaasvind nie. Dinsdagoggend het daar byvoorbeeld slegs een trein laat opgedaag. Meeste van die treine is op tyd.
“Sommige van die leerlinge het self erken dat hulle verslaap het. Hulle moet vroeg in die bed klim sodat hulle betyds kan opstaan vir skool,” het Grant gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA