Minister van gesondheid wil LP's op dieet sit
2011-05-25 07:36
Kaapstad - Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, wil parlementslede op ’n dieet sit.
Die skinkborde vol diepgebraaide versnaperinge, witbrood met allerlei vulsels en skons met konfyt en room waaraan parlementslede met middagete en teetyd smul, moet met gesonde kos vervang word.
Die minister het Dinsdag teenoor lede van die portefeuljekomitee oor gesondheid te kenne gegee dit deug nie om vir Suid-Afrikaners oor ’n gesonde leefwyse te predik en self soos vetkoeke uit die voorste banke te rys nie.
Dis hoogtyd dat parlementslede die voorbeeld stel “en die gevolge moet sigbaar wees”.
“Julle moet let op wat julle hier in die parlement eet. Die spyskaart moet verander,” het hy gesê met verwysing daarna dat ongesonde kos, te min oefening, alkohol en rook lei tot hoë bloeddruk en hartsiektes.
Motsoaledi het gespog sy vetrolle het die afgelope jaar weggesmelt.
“Komiteelede sal opmerk dat ek heelwat kleiner is as voorheen. Om drie keer ’n week vir ’n halfuur te stap en gesond te eet verrig wondere.”
Hy het omstreeks 09:30 die dag hygend by die komiteevertrek ingestap en gesê dit was omdat hy met die trappe na die vierde verdieping opgedraf het.
“Baie van julle loop nooit nie. Óf julle ry, óf julle klim in ’n hysbank. Maak soos ek en julle sal sien dit werk.”
Motsoaledi het in die teepouse ’n koppie swart tee gedrink en agterna aan Volksblad gesê hy het soveel gewig verloor dat hy nou klere van vier groottes kleiner dra.
Komiteelede het gelag toe Motsoaledi gebieg het hy het sy leefwyse verander nadat ’n dieetkundige sy lengte met sy gewig vergelyk het.
“Ek was baie groter as wat ek veronderstel was om te wees. En ek is oortuig as ons vandag by die parlement met maatbande opdaag, sal baie lede self verleë wees.”
Dr. Bevan Goqwana, ANC-LP en komiteevoorsitter, het erken hy eet op stresvolle dae graag stampmielies omdat dit dieselfde vertroosting bied as in die dae toe hy ’n kind was.
Volgens hom sal die komitee met dr. Ben Skosana, ’n voorsitter van die Nasionale Vergadering, in gesprek tree oor die moontlikheid om die parlement se spyskaart te verander.
- Volksblad