Minister teleurgesteld ná FNB-boodskap uitlek
2013-01-28 11:55
Johannesburg – Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag gesê sy is teleurgesteld dat 'n private gesprek tussen haar en Sizwe Nxasana, hoof van First Rand, FNB se beherende maatskappy, aan die media uitgelap is.
"Ons distansieer onsself hiervan omdat dit 'n ernstige kwessie is en ons sal die relevante sekuriteitsagentskappe nader om ondersoek in te stel," het Motshekga gesê.
"Ons vra om verskoning aan mnr. Nxasana vir die fout."
Die Sunday Times het berig dat Nxasana Maandag 'n SMS-boodskap aan Motshekga gestuur het nadat 'n kind haar in een van die maatskappy se You Can Help-videos "breinloos" genoem het.
"Goeiemôre minister, ek het FNB vanoggend beveel om die videogrepe van hul webwerf te verwyder. Ek sal ondersoek instel oor hoe en hoekom die videogrepe op sy webwerf beland het. [My] opregte verskoning hiervoor. Sizwe," lui die boodskap.
Die You Can Help-veldtog bestaan uit verskeie video’s van kinders in skooluniforms wat hulle hoop vir die land uitspreek.
Opposisiepartye en aktivistegroepe het gesê die ANC se kritiek oor die veldtog wys sy onverdraagsaamheid.
FNB het Donderdag met leiers van die ANC, insluitend Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, vergader. Die bank het Vrydag die ANC om verskoning gevra.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA