Minister se tirade op lughawe kos duisende
2011-09-16 12:06
Johannesburg – Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Suid-Afrikaanse belastingbetalers R235 000 uit die sak gejaag nadat sy geweier het om haar handsak deur 'n skandeerder op 'n lughawe in Oslo, Noorweë, te sit, berig Mail & Guardian.
Nkoana-Mashabane was vroeër vandeesmaand op 'n staatsbesoek aan die land toe sy geweier het om haar handsak deur die skandeerder te sit.
Sy het toe die vlug na haar volgende vergadering in Bulgarye verpas.
'n Privaatstraler is toe gehuur om haar na Bulgarye te neem.
Volgens haar departement het dié voorval belastingbetalers R235 343 gekos.
Die departement het gesê die Weense konvensie bepaal diplomate en hul bagasie mag nie deursoek word nie, en dat die minister – as die land se top diplomaat – reg was om te weier dat haar handsak deursoek word.
"Daar was niks in haar handsak wat nie verklaar kon word nie. Die saak gaan nie oor die inhoud van die bagasie nie. Dit is 'n saak van beginsel," het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA