Minister sê sy sal nie bedank
2011-10-20 09:03
Kaapstad – Sy sal nie bedank nie, want sy het niks verkeerd gedoen nie, het Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, Woensdag gesê.
“Ek sal minister bly vir so lank as wat die president en die mense van Suid-Afrika my hier wil hê,” het sy in die parlement gesê nadat haar departement aan die portefeuljekomitee oor openbare werke terugvoering gegee het oor hul swak jaarverslag.
Top-amptenare in haar departement het hul hande gewas van die ouditeur-generaal (OG) se bevinding dat die departement se geldsake in ’n warboel is.
Die OG het ’n ouditmening vir die 2010-’11-boekjaar weerhou – die swakste moontlike mening denkbaar.
Cathy Motsisi, finansiële hoofbestuurder, het van die OG se kritiek as “wilde veralgemenings” afgemaak. Volgens haar laat die OG die departement sleg lyk, terwyl dit dikwels “’n geval van interpretasie is”.
’n Gebrek aan personeel (een uit vyf poste is vakant) en hulpbronne is as verweer voorgehou omdat talle teikens nie gehaal is nie.
Die departement kon nie verantwoording doen oor besteding van R2,1 miljard nie en daar was onreëlmatige uitgawes van R16,5 miljoen.
Voorts kon die OG weens ’n gebrek aan bewyse nie hond haaraf maak met die departement se bateregister van R3,4 miljard nie. Mahlangu-Nkabinde het gesê sy het “slapelose nagte” oor die swak ouditmening.
Dit was die minister se eerste verskyning voor die komitee sedert adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), se tweede verdoemende verslag in Julie bekend gemaak is.
Madonsela het bevind Mahlangu-Nkabinde en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het onregmatig en onwettig opgetree in verband met twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban. Die OB het ook gesê Mahlangu-Nkabinde het geweier om haar samewerking tydens die ondersoek te gee.
Die minister het dié aantyging, asook Madonsela se bevindings verwerp en volgehou sy het nie ’n voet verkeerd gesit nie.
Die huurkontrakte vir die twee geboue is in Julie 2009 onderteken en sy is eers in November 2009 as minister aangestel. “Waarvoor moet ek verantwoordelikheid aanvaar?” het sy gevra.
Sy het ’n paar regsmenings oor die huurooreenkomste ter waarde van sowat R1,8 miljard ingewin. “Van hulle was daarvoor en ander daarteen. Ek het senior beamptes gestuur om met die OB te vergader en sy was tevrede met my antwoorde.”
Mahlangu-Nkabinde het in September ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om dié ooreenkomste wat met die sakeman Roux Shabangu gesluit is, nietig te laat verklaar. Shabangu gaan die aansoek teenstaan. John Steenhuizen (DA) het aangevoer hy vind dít vreemd omdat die OG die probleme lankal onder die minister en top-amptenare se aandag gebring het.
’n Diensverskaffer gaan die departement help om sy bateregister binne die volgende twee jaar reg te ruk, het Motsisi gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger