Minister se half milj. partytjie
2009-10-29 07:15
Kaapstad. – Die departement van vervoer het bykans R500 000 bestee aan onder meer ’n middagete met die oog op die nuwe minister, S’bu Ndebele, se begrotingsrede.
Dít blyk uit ’n geskrewe parlementêre antwoord deur Ndebele op ’n vraag van Jacob van der Linde, DA-LP. Van der Linde wou weet of ’n formele middagete gehou is en hoeveel dit gekos het.
Ndebele het gesê ’n totaal van R461 227,81 is in Julie vanjaar aan dié geselligheid bestee. Volgens hom is meer as R61 900 op ’n middagete vir 200 gaste bestee.
Dit het die departement ook R248 613 vir dekor en klanktoerusting gekos en ’n verdere R12 200 is aan vervoerkoste bestee.
Boonop is R138 486 bestee aan die uitstalling by die parlement ten tyde van sy begrotingsrede.
Intussen het Stuart Farrow, DA-woordvoerder oor vervoer, ’n beroep op die presidensie gedoen om die ministeriële handboek te verander. “Dit sal onmiddellik vermorste en vrugtelose uitgawes (kan) uitwis,” het hy gesê.
“Hoe regverdig die minister dié vlak van buitensporigheid ten tyde van ’n ekonomiese resessie waarin arm mense sukkel om te oorleef?”
Farrow het gesê dié geld kon eerder aan basiese dienste en infrastruktuur bestee gewees het. Hy het gesê dit is jammer dat dit lyk asof die ANC een ding sê en dan iets anders doen.
- Die Burger