Minister praat oor baba
2011-10-31 09:04
Kaapstad - “Ek moes van beter geweet het.”
Só het Fikile Mbalula, minister van sport, Sondag gereageer ná berigte dat hy glo ’n baba by ’n Johannesburgse model verwek het.
Hy het sy familie (veral sy vrou), die ganse Suid-Afrika, die ANC én die regering in ’n verklaring om verskoning gevra.
Dié senior figuur in die ANC het gister gesê hy worstel die afgelope drie maande met die kwessie, en het besluit om nie klagte van afpersing en omkopery teen die 27-jarige vrou aanhangig te maak nie.
In die verklaring sê hy hy het sy optrede aan sy familie verduidelik na aanleiding van die aantygings wat teen hom gemaak word in die media en hoekom hy nie daarop kommentaar gelewer het nie.
“Ek het verskoning gevra aan my familie, veral aan my vrou, omdat ek van beter moes geweet het.
“Ek het die afgelope drie maande probeer om die kwessie te hanteer en toe dit duidelik word dat die vrou bereid was om my vir geld af te pers, het ek besluit om alle kommunikasie met haar te verbreek. Ek was nie bereid om omgekoop te word nie.
“Haar bewering dat sy swanger is, is nog nie bewys nie. Ek is jammer om my gesin aan dié bewerings en bespiegeling in die media te onderwerp. Ek het besluit om nie klagte van afpersing of omkopery teen haar aanhangig te maak nie,” lui die verklaring.
Hy het privaatheid versoek om sy familie “tyd en ruimte” te gee.
Mbalula wou Saterdag ’n hofinterdik teen City Press, susterskoerant van Die Burger, bekom om te keer dat die koerant oor die bewerings skryf.
Sy regspan het egter Saterdagmiddag die saak laat vaar.
Mbalula, wie se 40ste verjaardagpartytjie Saterdagaand in Centurion plaasgevind het, het glo twee keer in Augustus onbeskermde seks met die vrou gehad.
Hulle het mekaar glo by die Houghton-gholfklub ontmoet.
Die minister het luidens die City Press-berig ontken dat hy seks met haar gehad het en haar ’n “afperser” genoem. City Press is in besit van ’n reeks SMS’e wat volgens die koerant bevestig Mbalula was ontrou aan sy vrou, Nozuko.
Die selfoonboodskappe toon ’n debat tussen die vrou en Mbalula oor of die swangerskap beëindig moet word.
Na wat berig word, is Mbalula vroeër op rekord aangehaal oor die belangrikheid van veilige seks en getrouheid.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger