Minister oor spandabelrigheid gekap
2011-04-11 07:15
Kaapstad – Opposisiepartye het Sondag hul kommer uitgespreek oor derduisende rande wat Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering, aan verblyf by die superluukse One&Only-hotel bestee het.
Die DA en OD eis nou dat die openbare beskermer (OB) dié uitgawe, asook R367 000 wat Shiceka glo bestee het aan eersteklas-vliegkaartjies om sy destydse vriendin in ’n Switserse tronk te besoek, ondersoek.
Shiceka het glo in Desember 2008 Switserland toe gevlieg om Phumla Masilela – ’n voormalige lugwaardin van die Suid-Afrikaanse Lugdiens wat in die tronk was op dwelmverwante klagte – te besoek en voorgegee dat dit ’n amptelike besoek vir Wêreldbeker-kwessies was.
Hanif Hoosen, sekretaris-generaal van die OD, het Sondag ’n versoek aan adv. Tulisile Madonsela, OB, per e-pos gestuur vir ’n ondersoek.
“Terwyl baie munisipaliteite sukkel om basiese dienste te lewer en terwyl miljoene Suid-Afrikaners op oorskietkos moet oorleef, dink die minister dit goed om soos ’n ryk en bekende in die voorste hotelle op belastingbetalers se koste te gaan bly.”
James Lorimer, DA-woordvoerder oor koöperatiewe regering, het gesê hy sal boonop vra dat die portefeuljekomitee oor koöperatiewe regering dit deeglik ondersoek.
Dit volg op mediaberigte in die Sunday Times dat Shiceka:
- R335 000 bestee het aan eersteklas-vliegkaartjies vir hom en sy persoonlike assistent en in ’n vyfsterhotel gebly het om sy vriendin in ’n Switserse tronk te besoek;
- ’n verdere R32 000 bestee het aan die huur van ’n chauffeur en limousinediens vir die tronkbesoek;
- R640 000 bestee het aan hom en ’n handjievol personeel om in die One&Only te bly, waarvan R280 000 op hom alleen uitgegee is;
- R55 793 bestee het aan een nag se verblyf in dieselfde hotel gedurende pres. Jacob Zuma se eerste staatsrede. Hy het boonop ’n sangoma saamgeneem wat sy “vaderfiguur” is; en
- Meer as R160 000 in agt maande bestee het om tien familielede, onder wie sy vervreemde vrou en huidige vriendin, rond te vlieg.
Shiceka meen die bewyse is vervals.
Tog erken hy die R280 000 vir sy verblyf in die One&Only vir een jaar en sê die ministeriële handboek laat dit toe.
- Volksblad