Minister ‘moet metropolisie ondersoek’
2010-11-27 07:28
Alicestine October
Kaapstad. – Ingryping van die hoogste gesag by vermeende ongerymdhede in die Kaapstadse metropolisiediens is vandeesweek gevra.
Die ANC in die Wes-Kaap het Nathi Mthethwa, minister van polisie, gevra om ’n ondersoek te begin na onder meer bewerings van nepotisme en swak beheer oor wapens en ammunisie.
“Die metropolisie is betrokke by een skandaal ná die ander oor bewerings van nepotisme, korrupsie, buitensporige geweld teen die publiek, gereelde klagtes oor personeel en swak beheer oor wapens en ammunisie. Minstens ses amptenare het die afgelope paar maande bedank,” het mnr. Werner Schwella, ANC-woordvoerder oor veiligheid en sekuriteit in die Stad Kaapstad, in ’n verklaring gesê.
“En ander amptenare het die diens verlaat weens ’n politieke skoonmaakproses.”
J.P. Smith, DA-raadslid vir veiligheid en sekuriteit, het gesê daar is in elk van die gevalle binne 6 tot 36 dae opgetree.
“Die ANC moet voor sy eie deur vee.”
- Die Burger