Minister 'móés optree' in Sasolburg
2013-01-24 12:45
Kaapstad – Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, móés optree toe hy uitvind daar is 'n totale ineenstorting van orde in Zamdela, Sasolburg, het hy Donderdag gesê.
Baloyi het aan joernaliste verduidelik hoekom hy die beplande samesmelting van die Sasolburg- en Parys-munisipaliteit tydelik gestaak het.
"Ek het inligting ontvang dat die inwoners van Zamdela betoog en dat daar 'n totale ineenstorting van orde in die gebied was, alles oor redes wat verband hou met die verskille oor 'n saak wat niks te doen gehad het met die strukture van die plaaslike regering nie. Ek moes optree."
Inwoners in die gebied het Sondag begin betoog oor die beplande samesmelting van die munisipaliteite.
Vier mense het sedertdien gesterf, verskeie is beseer en honderde is in hegtenis geneem. Verskeie motors is aan die brand gesteek en regeringsgeboue in Zamdela is verwoes.
'n Afbakeningstaakspan sal alle prosesse monitor, het Baloyi gesê.
Hy het benadruk dat hy 'n mandaat het om die voorgestelde samesmelting te keer om te verseker dat alle bekommernisse wat daarmee gepaardgaan, uitgeklaar kan word.
Hy het gesê die ministeriële taakspan sal ook moet toesien dat diegene wat deur die voorgestelde samesmelting geraak word, 'n sê het in die saak.
Inwoners in die gebied het Donderdag begin om terug te keer werk toe.
"Hoewel die situasie gespanne is, is alles onder beheer," het kol. Motantsi Makhele gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA