Minister kritiek ná trompop-botsing
2009-11-02 05:45
Kaapstad - Twee mense is dood en Zou Kota-Fredericks, adjunkminister van huisvesting, en haar bestuurder is in 'n kritieke toestand in die hospitaal ná 'n trompop-botsing.
Die ongeluk het Sondagmiddag plaasgevind, maar verdere inligting oor die ongeluk is nog nie bekend nie.
Adv. Lennit Max, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, sê menslike foute en die verontagsaming van padreëls is faktore wat bydra tot die hoë ongeluksyfer op dié provinsie se paaie.
Max het gesê die oorsaak van die ongeluk sal deeglik ondersoek word.
Hy het 'n beroep op alle padgebruikers gedoen om versigtig te wees en die veiligheid van ander padgebruikers in ag te neem, as hulle bestuur.
Max het gesê die provinsiale verkeersdepartement het sigbaarheid op die provinsie se paaie verskerp in 'n poging om ongelukke, beserings en sterftes te verminder.
– Nuus24