Minister keer land se tolpaaie
2011-10-24 06:57
Kaapstad - Die voorgenome nuwe tolpaaie op die N1 en die N2 is vir eers van die baan nadat die minister van vervoer, S’bu Ndebele, die finale besluit oor tolgeld tot Februarie uitgestel het.
Luidens ’n verklaring wat Ndebele Sondag uitgereik het, word die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) beveel om alle prosesse om tolgeld by nuwe plekke op die land se padstelsel te hef, dadelik te staak.
Landwyd sal geen nuwe konstruksiewerk aan voorgenome tolpaaie begin nie, hangende ’n besluit deur ’n nasionale ministeriële taakspan enersyds, en ’n Gautengse proses met nasionale gevolge andersyds.
Die drie mees omstrede voorgenome projekte wat tot die finale besluit in Februarie gestaak word, is die Wildekus-tolpad aan die Transkeise kus en twee voorgenome tolpaaie op onderskeidelik die N1 en die N2 buite Kaapstad.
Dit kom nadat die DA-beheerde stadsraad van Kaapstad besluit het om die regering hof toe te vat sodat twee beplande tolhekke op die N1 tussen Kraaifontein en De Doorns, en drie beplande tolhekke op die N2 tussen Kaapstad en Botrivier, gestuit kan word.
Ndebele se woordvoerder, Tiyani Rikhotso, het Sondagaand by navraag gesê bestaande padwerke aan voorgenome tolpaaie, soos wat op die N12 aan die Oos-Rand en elders in Gauteng aan die gang is, sal afgehandel word en word nie geraak deur die besluit nie.
“Dis nie die verbetering van die paaie wat heroorweeg word nie, maar die metode hoe om daarvoor te betaal. Die konstruksiewerk sal nie onvoltooid gelaat word nie. Die kontrakte is geteken en die verbeterings aan die paaie gaan voort,” het Rikhotso gesê.
Hy het verduidelik die regering heroorweeg in watter mate belastingbetalers vir die paaie moet betaal en in watter mate die spesifieke padgebruikers tolgeld moet opdok.
Die proses moet landwyd eenvormig wees, en sal deur twee gelyklopende prosesse bepaal word.
Eerstens is daar ’n interministeriële taakspan, waarin onder andere Ndebele en die minister van finansies, Pravin Gordhan, dien.
Hy het gesê die ministeriële taakspan sal sterk aanduidings oor die voorgestelde toekoms van die potensiële tolpaaie landwyd ontvang van ’n tweede proses wat eersdaags begin.
Dit is die proses van openbare raadpleging deur die Gautengse wetgewer oor die toekoms van die 42 elektroniese tolhekke wat oor 185 kilometer op die N1, N3, N12, N17, R21 en R24 in die provinsie opgerig is.
“ ’n Moeilike besluit moet geneem word. Ons land het verbeterde paaie, wat noodsaaklik is vir voortgesette ekonomiese groei, bitterlik nodig. Uiteraard moet iemand betaal daarvoor. Die moeilike deel is hoe om in die land se behoeftes te voldoen sonder om arm mense nog meer te laat ontbeer en sonder om belastingbetalers op spesifieke plekke droog te melk,” het Rikhotso gesê.
“Die ministers wil die publiek genoegsame geleentheid gee om met oplossings vorendag te kom voordat hulle finaal besluit.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger