Minister kap Zille oor Nkandla-besoek
2012-11-07 06:50
Kaapstad – Thulas Nxesi, minister van openbare werke, het uitgevaar teen die Demokratiese Alliansie ná Helen Zille, die party se leier, se besoek aan die president se privaat woning in Nkandla die afgelope naweek.
Nxesi en ANC-LP's het Zille gekritiseer omdat sy moeilikheid aangehits het toe sy Sondag pres. Jacob Zuma se huis besoek het.
Dít volg nadat hulle gevra is om ANC-ondersteuners, wat verhoed het dat Zille 'n inspeksie uitvoer, se gedrag te veroordeel.
Zille het Maandag gesê haar party se bedoeling was om te sien waarop openbare geld bestee word.
"Wat die slegste van alles is, is dat nie een leier van die ANC die optrde veroordeel het of die DA se reg om ons kommer uit te spreek en oorsigbesoeke te doen, beskerm het nie," het Debbie Shafer van die DA gesê.
Nxesi het toe teruggekap en gesê: "Dit lyk nie of hulle bewus is van die moontlike gevolge van die onwelkome en uitlokkende oortreding nie".
Intussen het Marius Fransman, ANC-leier in die Wes-Kaap, die DA daarvan beskuldig dat hy skynheilig is.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter